CVO Skool Kleinfontein
![]()
| Bestuurshoof: | Mr. Adriaan Appelgryn | |
| Leerlinge: | Graad 0 - standerd 5 (graad7) | |
| Leerplan: | Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys BCVO |
![]()
Ons Skool
Ons skool is geleë te Kleinfontein nedersetting, ‘n mooi landelike omgewing binne ‘n sekuriteits area. Ons is deel van die BCVO groep van skole en gebruik as buiteskool die Beweging se silabusse en werksboeke en is gevolglik onderhewig aan BCVO se inspeksies en standaarde. Ons deel dieselfde grondbeginsels van Protestants-Gereformeerde onderwys en dissipline en straal dieselfde missie en etos uit. Die enigste verskil is dat ons nie ‘n beperking op denominasie plaas nie vanweë die feit dat ons deel vorm van die nedersetting. Binne die nedersetting word daar nie ‘n onderskeid getref betreffende denominasie nie. Kinders word by ons skool ingeneem op grond daarvan dat die ouers bogenoemde beginsels onderskryf en hulle vereenselwig met die Boere-Afrikaner se volksideaal van selfbeskikking.
CVO Kleinfontein is ‘n laerskool, gestig op 1 Februarie 1999 en klasse vanaf graad 0 tot standerd 5 (graad 7) word tans aangebied. Daar is ook vooruitsigte vir die daarstel van ‘n Tegniese Hoërskool gerig op Voorberoepsopleiding.
CVO Kleinfontein staan onder ‘n direksie wat die beheerliggaam van die skool vorm. Die skool spog met ‘n span toegewyde onderwysers wat hulle hart en siel wy aan die Christelike onderrig en opvoeding van ons volk se kinders.
CVO Kleinfontein bied die volgende akademiese vakke aan naamlik:
Bybelonderrig
Afrikaans (Eerste Taal)
Engels (Tweede Taal)
Wiskunde
Wetenskap
Biologie
Aardrykskunde
Geskiedenis
Ons as ouers, personeel en direksie by CVO Kleinfontein voel dat ons veral in hierdie tydsgewrig waarin ons leef, ‘n verskil wil maak t.o.v. ons kinders se opvoeding en onderrig. Veral nou, meer as ooit glo ons dat dit nodig is, dat ons vas sal staan in Geloof, Waarheid en Liefde en voort sal gaan om te midde van ‘n groter wordende sekulêre wêreld sal bou aan ‘n toekoms vir ons kinders.
Soos u sekerlik bewus is, word Christelike norme en waardes in die skolebestel onder geweldige druk geplaas. Subsidies en finansiële bydraes vanaf owerheidsweë is karig en bestaan in die meeste gevalle nie meer nie. As daar dus iemand is wat hom met ons stryd vereenselwig en hulp hetsy finansieël of andersins wil aanbied, sal dit hoog op prys gestel word.
Neem ook asseblief die vrymoedigheid om my te skakel indien daar vrae of
onduidelikheid is.
Bestuurshoof: Adriaan Appelgryn
(012) 802 1454
(012) 802 0469
![]()
Skool Lied
Hier waar die wind deur waaigras gly
Het 'n droom steen vir steen gestalte gekry
'n Skool vir ons volk en taal
Maar ook 'n skool vir God bo-al
Ons streef na waar en reg
Ons baan hier die weg
Waar kinder-stemme lag en sing
Wil ons aan God ons hulde bring
![]()
Kopiereg © 2004 [CVO Skool Kleinfontein]. Alle regte voorbehou.
Hersien: September, 2006.