n TOEKOMS VISIE vir CVO KLEINFONTEIN

CVO Kleinfontein bevind hom midde-in bepaalde en unieke omstandighede. So is CVO Kleinfontein geleë in ‘n gemeenskap wat oorval word deur hoopvolle werklose volksgenote wat glo dat hulle tussen hulle eie mense geholpe sal raak. Ongelukkig is daar beperkte werksgeleenthede en baie van die mense wat hulle vestig in versorgingsoorde en op kleinhoewes probeer oorleef deur los werkies te doen. Hierdie toedrag van sake op sigself bring die skool te staan voor bepaalde uitdagings, sosio-ekonomies sowel as finansieel.  

Enersyds beskik die Direksie van die skool oor die verantwoordelikheid om toe te sien dat ‘n hoë onderrigstandaard gehandhaaf word. In hierdie opsig word toenemend klem geplaas op ouerbetrokkenheid, dissipline, onderriggehalte, gesonde boekhouding en nougesette administrasie. Andersyds moet daar egter ook gewaak word dat die skool nie as ‘n welsynsorganisasie in die samelewing gesien word of as toevlugsoord vir ‘probleem’ ouers nie. Gevolglik word die gesindheid van voornemende ouers van ons skool voortdurend getoets aan die bereidwilligheid wat hulle openbaar om by die skool se aktiwiteite betrokke te raak. Hierdie aspek word dan ook deurgetrek na die bereidwilligheid om ‘n finansiële bydrae tot hulle kinders se opvoeding te maak, ongeag persoonlike omstandighede. Hierdie ewewig tussen standaard en gemeenskapshulp is en bly egter ‘n moeilike taak, veral in die huidige tydsgewrig waarin ons leef.

 

Ek is van mening dat CVO Kleinfontein skool oor ‘n kundige en toegewyde onderwyserskorps beskik. Nieteenstaande die lae besoldiging wat hierdie onderwysers ontvang, verrig hulle steeds hul taak in blymoedigheid met ‘n Christelike verantwoordelikheid en besef dat ons kinders tot Sy Eer geleer en onderrig moet word. ‘n Diepe besef heers onder hierdie groepie onderwysers dat hulle een van die laaste vestings is tussen ons kinders en die wêreldaanslae. Onder die bekwame leiding van ons bedryfshoof, mnr. Adriaan Appelgryn, kan en sal hierdie skool nog groot hoogtes bereik. Ons as Direksie moet net poog om met insig, geloof en tot Sy Eer, deur Sy Genade, die rigting aan te wys en die skool uit te bou as bakenmat vir ons Christelike geloof.  

 

Daar word toenemend druk op privaatskole geplaas (ook CVO skole) om te swig voor die aanslae van die regering en meer spesifiek die onderwysdepartement. Hierdie druk sluit in toenemende inspeksies, administratiewe vereistes, asook die weerhouding van staatsubsidies. Ek is trouens die mening toegedaan dat die verkryging van hierdie subsidies binne die afsienbare toekoms gestaak sal word. Ons Christelik Calvinistiese lewens- en wêreldbeskouing binne konteks van die Boerevolk is net nie in lyn met die geproklameerde ideologiese beleidsrigting van die regering nie. Gevolglik is ons finansiële bronne beperk en sukkel ons om met die beperkte middele tot ons beskikking kop bo water te hou.

 

Ten einde ons skool finansieel meer lewensvatbaar te maak het die CVO Kleinfontein Direksie hulle ten doel gestel om die leerlingtal van die skool uit te brei, vakdissipline as prioriteit daar te stel, aktiewe gemeenskaps- en finansiële steun te promoveer en om die skool te vestig as instelling van eerste keuse vir voornemende ouers van Kleinfontein en die Rayton gebied. In hierdie opsig is een van die belangrikste oogmerke om ‘n jaarlikse groei in die skool se leerlingtal te bewerkstellig.

 

As verdere oogmerk wil ons graag spesifieke instansies betrokke maak by ons Direksie se toekomsvisie, ons skool se werksaamhede, en waar moontlik finansiële ondersteuning. Dit sluit in die beskikbaarstelling van kundigheid, veral waar ons bepaalde langtermyn ideale koester (soos die daarstel van ‘n tegniese hoërskool). Voorafgaande daartoe is en bly egter die vestiging van ‘n gesonde, lewensvatbare laerskool wat as voedingsbron vir ‘n tegniese skool kan dien.

 

Kom, word deel van hierdie visie en help ons om CVO Kleinfontein as ‘bate’ van die Kleinfontein gemeenskap enersyds, maar ook andersyds as bakenmat vir ons Christelike geloof daadwerklik uit te bou!

 

Dr. Pieter G. Vosloo

pg.vosloo@telkomsa.net

 

 

 

Kopiereg © 2004 [CVO Skool Kleinfontein]. Alle regte voorbehou.
Hersien: September, 2006.