GEDIGTE

 

Skryf aan ons by CVO Skool Kleinfontein ons sal graag jou gedig op die blad wil plaas.

 

KEUSES

 

Die oggend breek oor die horison

Die voëltjies baljaar, en die brommers brom

Is jy ‘n voëltjie, vrolik en vry

Of is jy ‘n brommer, befoeterd verby?

 

Jy kan kies wat jy wil wees

Jy is verantwoordelik vir die toestand van jou gees

Elke dag is n nuwe begin,

Elke dag, ‘n kans om te besin.

 

Maak jou keuses, maar doen dit reg

Daar is glad geen middeweg

Wees lief vir mekaar en wys jy gee om

Al bly ons in ‘n glashuis, weet ons wat kom

 

Seer gaan ons kry, maar opstaan maak ons vry

Soms gaan ons wen en soms gaan ons verloor

Tel op jou voete die tyd stap aan

Voor jy sien, is dit tyd om te gaan….

Monica Breytenbach

 

 

 

JOUNE (boorde vol van jou)

 

Tussen jou boorde

loop ek en soek na woorde,

 

vleg my hande deur jou wingerdstokke

tot jou antwoord myne is

 

                                My hart speel Aljander-Aljander so deur die bos

                                al om die hart van jou; wat my nie wil verlos

 

                                My lippe smul aan jou trosse

                                tol dit om en om; tot dit proe soos lief-sê-kossse

 

Ek kom soek na woorde

in jou boorde

 

-enige woorde-

huistoegaanwoorde

 

Martha Maria Jones

 

 

Pretoria 150

 

Pretoria, stad van pionier, jou poorte wink van vér...

jou bakens blank staan hoog en fier, jou naam blink soos 'n ster!

 

Geen duister' mag, geen kru barbaar kan wegneem van jou faam-

geen heidenhand, geen slu gebaar ontroof jou van jou naam.

 

Pretoria, stad van edel bloed, jou kinders trek nou saam...

Saluut, staan sterk, hou hoog jou goed - God ken jou by die naam!

 

DJC van Zyl

 

 

 

Erfenis
 

Die Vrede van Vereeniging

lê bitter in ons bloed gekring

 

Toe ons gebreek was tot die been,

verwese in die smaad versteen,

 

toe ons verslae was van smart

en hol van hoop in elke hart,

 

het ons die enkel trots geërf

dat Kruger met die Vierkleur swerf …

 

Sy afstandsoffer het gered

toe ons te skor was vir gebed,

 

sy ongebukte ballingshoof

ons weer geanker in geloof …

 

Groot bittereinder van ons bloed

het hy die vryheid weer laat gloed,

 

weer drif, weer vlam in ons laat word,

ons moeë lendene omgord

 

met moed om teen die môrekim

meer as Majoeba uit te klim.

 

G.A. Watermeyer

 

 

 

Kopiereg © 2004 [CVO Skool Kleinfontein]. Alle regte voorbehou.
Hersien: January, 2007.