Onderwyssake

 

DIE ONDERRIG STANDAARD BY CVO SKOOL KLEINFONTEIN

 

By enige skool gaan dit by uitstek (of so word veronderstel) oor onderrig.  Dit impliseer die daarstel van ‘n standaard.  Die onderrigstandaard moet verder meetbaar wees, sodat ouers en onderwysers aan die einde van ‘n jaar kan sê:  “Ons het in ons doel geslaag.  Ons kan ‘n leerling met ‘n geruste hart en ‘n oop gemoed bevorder na ‘n volgende vlak of standerd”.

 

So is dit ook by CVO Kleinfontein gesteld, en wil ons nie net onderrig nie, maar ons wil dit doen aan die hand van sekere maatstawwe, wat ‘n bepaalde uitkoms aan leerlinge bied wat op standaard is.

 

Standaardonderwys begin in die eerste plek by die kurrikulum wat gevolg word, en so ‘n kurrikulum moet geakrediteer wees by ‘n Onderwysinstansie.  So volg CVO Kleinfontein, BCVO se kurrikulum en lesplanne wat nie dieselfde is as Staatskole se kurrikulum 2005 nie, maar wat geskoei is op die ou TOD se onderwyssilabusse.  Verder is CVO Kleinfontein geregistreer as ‘n buite-lid-skool by BCVO (Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys) wat sy eie eksamenraad het, wat direk by AMALUSI geregistreer is.  (AMALUSI is die nuutgestigte raad wat SAFSERT, of die ou Suid-Afrikaanse Sertifiserings Raad vervang het).

 

As lidskool van BCVO is CVO Kleinfontein as skool, sy bedrywighede en onderwys onderhewig aan inspeksies van BCVO, sowel as die Gautengse Onderwys Departement.  Elke onderwyser by CVO Kleinfontein is dan ook as leerkrag by SAACE (Die ou Federale Onderwysersraad), geregistreer.

 

Die Direksie en personeel van CVO Kleinfontein se strewe en missie, sal altyd wees om op ‘n gekoördineerde en aaneenlopende basis die onderrigstandaard te ondersoek en aanpassings te maak soos dit benodig word. Ons sal poog om altyd hoë standaard onderwys vir ons kinders te bied en dit uit te bou om so die toets van die tyd te deurstaan.

 

CVO Kleinfontein probeer waar enigsins moontlik om nie te volstaan met die minimum vereiste soos neergelê in die sillabus en uitgewerk in die Werkboeklesse nie.  Dit is soms sinvol om verrykingstemas by te voeg ter nastrewing van die hoogste moontlike standaarde en om die onderliggende waardes van CVO te beklemtoon.

 

 

 

Kopiereg © 2004 [CVO Skool Kleinfontein]. Alle regte voorbehou.
Hersien: September, 2006.